Katedraal

Onse-Liewe-Vrou-katedraal in Reims (Frankryk). In hul geheel en in hul argitektoniese elemente gee gotiese katedrale gestalte aan die godsdienstige gevoelens en hemelsverwagting van hul tyd. So wys hul argitektoniese dinamiek hemelwaarts

Die term katedraal of - meer presies - katedraalkerk (afgelei van die Grieks-Latynse ecclesia cathedralis) verwys na 'n biskopskerk, waarin die stoel van die biskop (Grieks καθέδρα [kathedra]) 'n prominente plek inneem.

Die term ecclesia cathedralis is vir die eerste keer tydens die Konsilie van Tarragona in 516 gebruik. As belangrike kerke is katedrale ook ecclesia maior ("groot kerk") en as hoofkerke van 'n distrik uiteindelik ook Latyns Domus Dei ("die Huis van God") genoem. Hiervan afgelei is die Italiaanse term Duomo en die Duitse Dom.

Die wesfasade en hoofportaal van die katedraal te Speyer (Duitsland), 'n voorbeeld van die Romaanse boustyl
Die katedraal van Helsinki, Finland
Koor van die katedraal van Ely, Cambridgeshire, Engeland
Roosvenster in die katedraal van Straatsburg.

Katedrale is in argitektoniese opsig gewoonlik indrukwekkende geboue, en alhoewel die term katedraal oorspronklik funksioneel gebruik is, het hy geleidelik ook 'n kunshistoriese betekenis gekry. 'n Katedraal word gevolglik in die algemeen as 'n biskopskerk gedefinieer, wat volgens die Duitse kunshistorikus en skrywer Hans Jantzen tegelykertyd ook 'n "draer van die leidende gedagtes van die westerse boukuns" ("Träger der führenden Gedanken der abendländischen Baukunst") is. Daar is ook 'n suiwer kunshistoriese definisie, waarvolgens katedrale as die "hoofkerke van die Gotiese boustyl" beskou word (Adolf Adam).

Katedrale het hulle argitektoniese en kunshistoriese hoogtepunt tydens die gotiese tydperk bereik, en hier veral in Frankryk, waar katedrale naas hulle godsdienstige funksie ook die aansien en magsposisie van biskoppe en wêreldlike heersers weerspieël het. Die term katedraal word gevolglik dikwels in samehang met die gotiese boustyl gebruik. Wat hulle argitektoniese uitvoering in die tydperk betref, waarin die Franse katedraalboukuns sy grootste invloed uitgeoefen het, toon die meeste katedrale in Europa baie ooreenkomste.

Die oprigting van katedrale gaan gepaard met die verskuiwing van die geestelike sentrum, wat van die landelike gebiede na die stede beweeg het, en die stedelike katedrale begin die kerke van abdye geleidelik vervang. As reaksie op hierdie ontwikkeling is ook kloosters digby of in stede opgerig, sodat hulle nog steeds 'n invloed op die bevolking kon uitoefen.

Die katedrale was steeds die hoofkerk van 'n bisdom, en met die uitsondering van Rome en Aken het die biskoplike gebiede net oor een katedraal beskik. Sedert die vroeë Middeleeue is hierdie kerkgeboue meestal aan 'n heilige gewy. Talle katedrale is later as gevolg van die opkomende verering van Maria herdoop en aan die Moeder Gods gewy.

In die vroeë Middeleeue is katedrale deur die plaaslike biskop beheer, en sy woonhuis is digby die kerkgebou opgerig. Die neiging om kleiner kerke deur groter geboue te vervang, het met die groeiende invloed en politieke rol van die episkopate in die 8ste en 9de eeu 'n aanvang geneem. Die biskoppe het hulle dienste egter in hul eie klein kapelle begin hou en het net op belangrike kerklike feesdae gebruik gemaak van die katedraal. Die katedrale het onder die leiding van spesiale kolleges van priesters en diakens gestaan wat ook 'n groot invloed op die ontwikkeling van katedraalboukuns en ander aspekte uitgeoefen het.

'n Aantal katedrale, soos byvoorbeeld dié van Keulen of Praag, het ná die einde van die gotiese tydperk onvoltooi gebly en is eers tydens die 19de eeu klaar gebou.

Die Pous verleen aan 'n aantal beduidende Rooms-Katolieke kerkgeboue die titel Basilica minor. 'n Voorbeeld hiervan is die Sint-Viktorkerk in die Duitse stad Xanten, wat nooit as 'n katedraal gedien het nie. Katedrale met die bynaam Basilica minor word ook basiliekkatedrale genoem.


Developed by StudentB